Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Prosa & poësie » "Die reis na die einde van die somer" deur FERDI GREYLING
"Die reis na die einde van die somer" deur FERDI GREYLING [boodskap #19485] Wo, 02 Desember 1998 00:00
G.B.  is tans af-lyn  G.B.
Boodskappe: 2179
Geregistreer: Mei 1997
Karma: 0
Senior Lid
DIE REIS NA DIE EINDE VAN DIE SOMER
Ferdi Greyling

Groen en bruin
lê die Outenikwa-berge in die verte
- tussen rooi heuwels op regs
en droë klipkoppies na links.
Hierdie pad draai soos 'n slang
voor ons uit deur die voetheuwels
en dan op na die berg toe.
Ons ry op die slang se rug
ons ry uit die Klein-Karoo
ons ry die berg uit - see toe.
Oor die berg
en warm en soet lê Oudtshoorn
agter ons en in die geheue.
Ons ry op die slang se rug.
Ons ry see toe waar die dae
soos branders op die sand val
en tyd in strome maal,
blou by Mosselbaai,
en talle skulpe uitspoel op die strand.
Kalksteenhuise van dooie seediere
wat kleure blits in die son
en droë klonte see op boekrakke lê.
So het ons gery op die slang se rug
tot by hierdie huis langs die see,
hier waar die lug begin kantel.
Op die einde van die vakansie
manifesteer die see se strome
onvermydelik in 'n barometer wat val.
Toe het ons kil bewus geword
van simmetriese blokke ys
soos slangtande so wit,
wat onverstaanbaar kompleks
laag op laag lê
in die verre suide,
waar Antarktika wiskundig tier.
Vorige onderwerp: "Gigue van die Rotvanger" deur ANTJIE KROG
Volgende onderwerp: "Biologie Klas" deur ANTJIE KROG
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Vr Mei 03 08:10:52 MGT 2024